[OORSPRONLIK GEPLAAS IN SUIDERNUUS, 4 MAART 2022]
Een van die groot tragedies in die lewe, is dat ons as individue onsself heel dikwels moet besig hou met dinge wat regtig nie vir ons lekker is nie. Soms is dit dalk ’n aspek van ons werk (nasienwerk, byvoorbeeld), soms is dit ’n administratiewe verpligting (ek moes op ’n keer in 2007 by die verkeersdepartement in Langlaagte, Johannesburg gaan tou staan vir ’n nuwe bestuurslisensie – ek kan beswaarlik glo dat ek nou, 15 jaar later, al uit daardie tou is), en soms is dit huishoudelike verpligtinge (vuil potte skuur, in my geval).
Maar soms bevind ’n mens jou in ’n situasie waar jou hele wese skreeu teen dit wat jy dag in en dag uit moet doen.
Aan die toeval oorgelaat
Die Turkse skrywer Orhan Pamuk verstaan iets hiervan. Sy hoofkarakters bevind hulself dikwels in loopbane waarin hulle gedwing is, of waarin hulle toevallig beland het. Hulle is dikwels ’n slagoffer van omstandighede.
Hulle bevind hulself dikwels in loopbane wat op die oog af geweldige herhaling behels, maar waar die karakter homself dan ingrawe in daardie rol (sy hoofkarakters is gewoonlik manlik). Passie is gewoonlik nie betrokke by die persoon se werk nie. Maar wel toewyding. Of soms misplaaste lojaliteit. Heel dikwels word dit later selfs passie. (Of verwar ek trots met passie?)
Maar hoe saai die hoofkarakter se loopbaan dan nou ook al mag lyk, hy is gewoonlik smoorverlief op 'n vrou wat veel mooier is as wat aanvaarbaar sou wees vir die hoofkarakter se klas of amp.
Die joghurtsmous van Istanboel
In sy boek A strangeness in my mind wat in 2014 verskyn het, is die hoofkarakter, Mevlut, ’n joghurtsmous in die strate van Istanboel. By ’n neef se troue vang die bruid se jongste sussie sy oog en hy is onmiddellik smoorverlief. Die sussie is verby mooi. Sy is verruklik.
Mevlut begin ’n briewewisseling met die sussie, onwetend dat sy ander neef hom gekul het. Sy ander neef het self ’n oog op die verruklike sussie, en het toe vir Mevlut in ’n briewewisseling met die derde suster – die lelike eendjie – betrokke gekry. (Soos wat einige leser sou kon vermoed, het hierdie fnuikery 'n tragiese einde.)
Dié briewewisseling dra egter vir Mevlut terwyl hy sy diensplig in die Turkse weermag moet uitdien. Hy het die mooi sussie voor oë. Hy droom die mooiste frases op vir die briewe wat hy vir haar skryf. En sy skryf terug. Die briewe lees hy gaar, min wetend dat dit van die verkeerde suster af kom.
Dit is tydens sy tyd in die weermag dat die joghurtsmous tot ’n groot insig oor die lewe kom.
Before he became a man, Mevlut never used to distinguish his body from his mind and soul, thinking of all three together as “me”. But in the army he would discover that he was not necessarily the sole master of his own body and that, in fact, it might be worth surrendering it to his commanders if to do so at least allowed him to save his soul and keep his thoughts and dreams to himself.
In die weermag het dit dalk vir Mevlut gevoel asof dit sy liggaam is wat hy moet opoffer. Maar in verskeie stadiums van sy lewe moes hy verskillende dinge opoffer. Gewoonlik júís sy drome en ideale. Hy het telkens lank daaraan probeer vashou (soos dat hy dalk tóg eendag skool sal voltooi). Maar mettertyd het hy gewoond geraak aan sy lot, en stelselmatig het sy drome en ideale eers onwerklik en later onmoontlik geword.
Soos met sy werk (dit het hom oorgekom eerder as dat hy dit gekies het), aanvaar hy byna gelate dat hy in die liefde gekul is, en slyt hy sy lewe met die lelike sussie. Later raak hy gewoond aan haar, en later toegewyd. Later raak hy selfs lief vir haar – al kan hy die mooi suster nooit vergeet nie.
‘Strangeness in my mind’
Miskien is die mooi suster 'n bietjie soos Mevlut se gewete. Altyd iewers op die agtergrond besig om hom daaraan te herinner dat hy nie kon kies soos hy wou nie. Nie in die liefde nie, en ook nie in sy loopbaan nie. Maar ook dat hy nie nee gesê het nie. Dat hy sy lot aanvaar, en sy drome stelselmatig laat sterf het.
Hy dwaal maar so deur die lewe met daardie “strangeness in my mind” waarna die titel verwys. ’n Vae vermoede dat dinge nie vir hom uitspeel soos dit moet nie. En dat hy dus soms dele van homself moet afstaan – soos sy liggaam aan die weermag – as hy enigsins wil probeer om iets van sy siel en van sy drome vir homself te bewaar.
Maar soms boet hy ook sy drome in. En soms, vermoed 'n mens, sy siel.
Dis seker nie verniet dat die titel van die boek geïnspireer is deur die volgende strofe uit William Wordsworth se The Prelude nie:
I had melancholy thoughts…
a strangeness in my mind,
A feeling that I was not for that hour,
Nor for that place
Comments